Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

Finansies & besigheid


6 Wenke om vryskutuitbranding te vermy

deur Leoni Benghiat

1. Kies wyslik. Wanneer jy die eerste keer as 'n vryskut begin, het jy dalk 'n "as jy verleë is, kan jy nie kieskeurig wees nie"-ingesteldheid. Jou primêre doel is dan om nooit “nee” te sê vir enige werk nie, want jy het mos die geld nodig om te kan oorleef. Dit kan voldoende wees as 'n korttermynstrategie, maar met verloop van tyd sal die aanneem van te veel projekte of kliënte jou op die vinnige pad na vryskutuitbranding plaas. In plaas daarvan om vanuit 'n vrees vir te min werk te funksioneer, slyp eerder jou vermoë om projekte aan te pak wat die beste by jou belangstellings en vaardighede pas en weet wat 'n redelike werklading is en wanneer genoeg genoeg is. Leer jou perke ken.

2. Verander jou uitsig. Selfs al het jy die vermoë om van enige plek af te werk, kan vryskutters maklik in 'n groef beland deur dag in en dag uit by dieselfde lessenaar te sit. Om dinge vars te hou en jou 'n nuwe perspektief te gee, kan jy jou skootrekenaar gryp en van tyd tot tyd iewers anders werk. Baie skrywers reken ‘n koffiewinkel is ‘n ideale werkplek. Trakteer jouself byvoorbeeld af en toe met ‘n heerlike koppie koffie in ‘n koffiewinkel om ‘n nuwe uitkyk op die lewe te kry.

3. Skep werksdaggrense. Nog 'n waarskuwingslig vir vryskutuitbranding is 'n gewilligheid om bykans heeldag te werk. Hoewel ambisie jou sal help om kliënte te behou, is daar perke aan hoeveel jy op een dag kan doen – veral dag na dag. Terwyl dit onvermydelik is om soms die kalf uit die put te moet trek as daar ‘n krisis of ‘n sperdatum voor jou opdoen, moet jy dit vermy om in 'n gewoonte van oorwerk te verval as jy 'n langtermyn-vryskut wil wees. Bepaal – en hou dan daarby – ten minste semi-gereelde werksure eerder as om aand na aand by jou lessenaar te gaan sit. Jy kan altyd buigsaam wees wanneer jy dit nodig is, maar om 'n werkskedule te hou wat ten minste gedeeltelik voorspelbaar en nie buitensporig lank is nie, sal jou help om die hele week varser en meer energiek te bly.

4. Verandering is goed. As 'n vryskut is jy die fundamentele fleksiewerker met totale beheer oor wanneer en waar jy jou werk gedoen kry. Maar as jy vyf dae per week, van 9-tot-5, maand na maand sonder afwisseling werk, is dit dalk tyd om dinge bietjie af te wissel deur af en toe verskillende ure te werk. Bestee vir 'n rukkie sommige van daardie dagligure aan ontspanning en probeer om vriende te maak met die kerkhofskof (nagskof), veral as jy‘n berugte naguil is.

5. Handhaaf balans. Besige vryskutters kan amper masjienagtig raak in hul toewyding en gewilligheid om werk van hoogstaande gehalte vir hul kliënte te lewer. As dit bekend klink, sal jy dalk meer soos 'n werker as 'n persoon begin voel. Herinner jouself daaraan dat een van die redes waarom jy in die eerste plek vryskut wou werk, juis was om meer balans en buigsaamheid in jou lewe te hê – en vind dan maniere om hierdie idee in jou vryskutonderneming prakties toe te pas. Dit is wel moeilik om te doen, maar baie belangrik: selfs met spertye wat op hande is, moet jy steeds behoorlik eet, genoeg oefen en tyd bestee aan ander dinge in jou lewe, soos om persoonlike belangstellings na te streef en bietjie te ontspan.

6. Slaan 'n dag oor. Slegs werk en geen ontspanning... wel, jy weet hoe hierdie werk. En jy onthou daardie vreesaanjaende toneel in die gruwelfliek, The Shining! Kies 'n week en wissel dae vir kliëntewerk af met dae om bietjie saam met vriende of kollegas deur te bring. Sodoende sal jy verhoed om afgestomp te raak. Die deurslaggewende faktor is dat te veel werk en te veel herhaling in jou daaglikse ervaring daartoe kan lei dat jy gestres en uitgebrand voel. Gee jouself meer woema deur dinge bietjie af te wissel en op te kikker vir groter welstand en beter resultate.

Duidelike tekens van uitbranding

  • Chroniese moegheid.

  • Slaaploosheid.

  • Vergeetagtigheid en afname in konsentrasievermoë.

  • Fisieke simptome soos borspyn, hartkloppings, om uitasem te wees, duiseligheid, floutes en hoofpyn.

  • Toenemende siektes. Omdat jou liggaam uitgeput is, is jou immuunstelsel swakker en is jy vatbaarder vir infeksies soos verkoues, griep en ander immuunverwante siektes.

  • Verminderde eetlus en dalk gewigsverlies.

  • Angs wat mettertyd vererger en later jou werk en persoonlike lewe affekteer.

  • Skuldgevoelens, gevoelens van waardeloosheid en depressie

  • Woede wat met aanvanklike irritasies begin en later tot uitbarstings lei.

  • Gevoelens van sinisme en afsydigheid.

  • Verlies van lewensgenot.

  • Pessimisme.

  • Isolasie.

  • Gevoelens van apatie en hopeloosheid.

  • Toenemende geïrriteerdheid.

  • Afname in produktiwiteit.

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: